Danneline tref Woordfees 2019 met Xhoulag 2

Groter. Beter. En selfs ’n bietjie stouter… Dit is hoe die Namakwalandse storieverteller en woordkunstenaar Danneline Ramsden haar nuwe produksie Xhoulag 2 beskryf, wat volgende week die Woordfees tref.

Ná sy verlede jaar tot in Namibië mense laat skaterlag het met haar unieke stories van haar grootwordwêreld is Ramsden terug met ’n nuwe produksie – dié keer met die TV-persoonlikheid en skrywer Ivor Price in die regisseurstoel en gasverskynings deur die bekende rymkletser Vito Heyn.

“Dit is my eerste volwaardige Woordfees-produksie – ’n groot droom wat bewaarheid word,” sê Ramsden, wat die laaste dekade reeds op Stellenbosch woon en werk. “Ek knyp nog myself as ek dink aan hoe mense verlede jaar my debuutproduksie aanvaar en ervaar het. Ons Namakwalanders lag mos nie net nie. Ons xhoulag. Diep en lelik uit ons binnste uit, en dit bly ’n voorreg om my eg, Namakwalandse stories met mense te deel.”

Volgens Ramsden wemel Xhoulag 2 van die nuwe stories, wat beteken dat selfs haar gereelde ondersteuners elke oomblik sal geniet. Dit sluit ’n skreeusnaakse verhaal in wat voor die magistraat op Springbok afspeel. “Hy’s bietjie aan die stoute kant, maar ek glo mense sal hom waardeer en beslis nooit vergeet nie. Dit was vir Price belangrik dat ons in Xhoulag 2 ook die stories insluit wat ons tot dusver net om die braaivleisvuur  vertel het. Wees ook op die uitkyk vir my stories oor diamantdelwery, of “digging” soos ons dit by die huis doen – als gebaseer op ware verhaal en mense wat ek ken.”

Price beskryf Ramsden en Heyn as ’n kragtoer. “Dit is twee Nama-tjênners waarvan jy eenvoudig móét kennis neem. Hulle neem jou op reis deur Namakwaland se stofstrate en laat jou vir ’n uur lank vergeet van alles wat pla. En die beste van als is dat hulle dit in hulle eiesoortige Afrikaans doen… Sonder tierlantyntjies en geite.”

Heyn gaan mense met liedjies van sy nuwe album, Ek is trots, vermaak. “Regtig, ek was lanklaas so opgewonde. In Xhoulag 2 deel ons, as trotse Namakwalanders, ’n bietjie van ons kultuur en taal met mense. Mense vergeet ook deesdae om te lag, so ons laat hulle ook vir ’n uur lank van hulle sorge vergeet.”

Ramsden se Xhoulag 2 speel slegs op Vr. 8 Maart 2019 van 18:00 tot 19:00 by die H.S. Lückhoff op Stellenbosch. Kaartjies kos R135 as jy dit vooraf by Computicket koop, en R155 as dit op die aand van die vertoning by die deur gekoop word.

By |2019-02-26T20:33:13+00:0026 Februarie 2019|