‘Nét die show om jou te laat xhoulag,’ berig Son

Die dagblad Son berig oor Danneline Ramsden se opkomende “Xhoulag 2”-storievertelproduksie.

Danneline Ramsden se opkomende Xhoulag 2-produksie laat omtrent die tonge klap.

Die Wes-Kaap se grootste koerant, Son, het nou ook daaroor berig. Die vermaaklikheidsjoernalis Kelly-Lee Ohlson, bekend vir haar immergewilde “Lekke’ Djy”-vermaaklikheidsberigte, beskryf Xhoulag 2 as nét die produksie om mense te laat xhoulag. Namakwalanders, soos Ramsden, lag mos nie net nie. Hulle “xhoulag” diep uit hulle mae uit tot dit seer is.

Komaggas se bekende woordkunstenaar bring haar eenvrouproduksie, Xhoulag 2, Woordfees toe, en beloof om jou vasgenael te hou met al die saamlagstories uit haar grootwordwêreld. Van haar oorle’ ouma en die hospitaalbedpan tot ’n oom wat oppad na ’n begrafnis toe met skreeusnaakse gevolge te diep in die bottel kyk, neem sy jou op reis deur die kleurvolle karakters wat ’n diep indruk op haar gemaak het.

Ramsden kom uit ’n familie wat graag stukke sny. Trouens, haar enigste kleintydvermaak was die stukke wat die grootmense gesny het, want Komaggas het eers jare later elektrisiteit en TV’s gekry. Dié kaalvoetkind se verbeelwêreld was ver weg van Komaggas se stofstrate. Sy het gedroom van ’n verhoog waarop sy mense lag-lag kon inspireer en van hul sorge laat vergeet, en vandag is dit presies wat sy landwyd doen.

Daar is nog net ’n beperkte aantal kaartjies vir die Woordfees-vertoning beskikbaar op Vr. 8 Maart om 18:00 op Stellenbosch.

By |2019-02-27T16:42:58+00:0027 Februarie 2019|