Biografie2018-08-31T11:03:21+00:00

Biografie

Danneline Ramsden staan nie verniet as die Namakwa-daisy van die Afrikaanse storievertelwêreld bekend nie. Dié bekende storieverteller en woordkunstenaar kom van Komaggas in Namakwaland, hoewel sy tans op Stellenbosch woon en werk. Sy put inspirasie uit die mense van die Noord-Kaap, en beskou haar stories as ’n vorm van lagterapie wat mense minstens vir ’n oomblik van hulle sorge laat vergeet.

Hoekom noem mense jou die Namakwa-daisy?

Namakwaland is mos wêreldwyd bekend vir sy blomme. Dit is prentjiemooi, en noudat ek in Kaapstad woon, dra ek maar altyd ’n blom op my uitrustings. Dit herinner my aan die streek waar ek vandaan kom; aan die mense vir wie ek so lief is. Ek’t al gehoor die mense sê ek is ’n kind van blommeland, wat blom wanneer ek van my mense praat. Daar is nie ’n groter kompliment nie.

Vertel ons van jou komvandaanplek, Komaggas.

Komaggas is 40km suidwes van Springbok en 45km noord van Soebatsfontein. Dit is die plek waar my hartsmense steeds woon. Op Komaggas kan ek doodgewoon net mens wees. Dit is vandag nog ’n dorp met stofstrate, en ek het mooi herinneringe aan my kaalvoetdae daar. Dit is ’n dorp waar ek letterlik by enige huis vir ’n brou kan aanklop, en na my mense se stories kan luister wat hulle altyd met soveel smaak vertel. Die eenvoud van Komaggas en sy mense maak dat ek gereeld hunker na my tuisdorp.

Waar kom jou liefde vir die storievertelkuns vandaan?

Namakwalanders het maar nou eenmaal ’n gawe vir die kuns van storievertel. My liefde vir mense en hulle stories het al kleintyd gemaak dat ek aan hulle lippe hang. Dit het my baie laat lag, en ook my ingesteldheid op die lewe verander. Mense soos Tolla Van der Merwe en Jan Spies van Maak ’n las-faam was vir my ’n groot inspirasie.

Jy vertel graag stories oor mense wat jy ken…

Die meeste mense van wie ek stories vertel, ken ek persoonlik. Hulle lê my baie na aan die hart, en ek is geïnspireer deur hoe hulle selfs die donkerste oomblikke van die lewe met humor kon inkleur. Van hulle is lankal nie meer met ons nie, maar deur hulle stories te vertel kan ek help dat hulle herinneringe voortleef.

Wat is dit van jou debuutproduksie, Xhoulag, wat mense so aangryp?

Eintlik is ek verbaas oor hoe my lewe verander het sedert my eerste Xhoulag-produksie in Desember 2017. Sedertien het ek al wyd opgetree, en ook by verskeie kunstefeeste ’n draai gemaak. “Xhoulag” is mos hoe ons Namakwalanders daarna verwys wanneer jy uitbundig en uit jou maag lag. Ek hoop dat my stories mense van hulle hartseer, pyn, stres en lewensgesukkel kan laat vergeet. Lag is immers die beste medisyne vir die siel.

Hoekom lê Namakwalandse Afrikaans jou so na aan die hart?

Namakwalandse Afrikaans is uniek en eie aan “oesie mense”. Die geheim lê in ons unieke aksente. Jy kan maar waar in die wêreld wees, jou aksent sal jou wortels verklap. Namakwalanders ken mekaar uit en soek mekaar op. Ons Afrikaans bind (“xhai”, soos ons by die huis sal sê) ons aanmekaar – net soos ’n lappieskombers (“xhonkombers”).