In Die Nuus2018-09-03T08:23:53+00:00

In Die Nuus

Danneline Ramsden laat omtrent die tonge klap met haar kleurvolle Namakwalandse stories. Sy is ’n gereelde gas op verskillende radio- en TV-programme. Ook die koerante en tydskrifte gons oor haar. Hier is van haar onlangse mediaverskynings.

Xhoulag 2 uitverkoop by Woordfees!

Mense het van heinde en verre gery om Danneline Ramsden se nuwe Woordfees-produksie, Xhoulag 2, op Stellenbosch te beleef. Die vertoning was uitverkoop, en baie mense wat nie betyds kaartjies gekoop het nie moes voor die deur omdraai omdat daar eenvoudig nie meer sitplek vir ’n muis was nie.

Xhoulag 2 het boonop vir die eerste keer gespog met gasverskynings deur Namakwaland se eie Vito Heyn, wie se nuwe album, Ek is trots, onlangs vrygestel is. Mense was gaande oor sy liedjies, waaronder “Outjie Vanie Platteland” en “Ene viri span”.

Die Woordfees word wyd beskou as een van Suid-Afrika se voorste kunstefeeste, en lok besoekers van oor die land heen. Van die mense wat Xhoulag 2 kom kyk het, het agterna aangedui dat hulle meer as 800km gery het om Ramsden in aksie te sien.

Ivor Price was die regisseur en Quinton Stuurman die mederegisseur en verhoogbestuurder.

13 Maart 2019|

‘Nét die show om jou te laat xhoulag,’ berig Son

Die dagblad Son berig oor Danneline Ramsden se opkomende “Xhoulag 2”-storievertelproduksie.

Danneline Ramsden se opkomende Xhoulag 2-produksie laat omtrent die tonge klap.

Die Wes-Kaap se grootste koerant, Son, het nou ook daaroor berig. Die vermaaklikheidsjoernalis Kelly-Lee Ohlson, bekend vir haar immergewilde “Lekke’ Djy”-vermaaklikheidsberigte, beskryf Xhoulag 2 as nét die produksie om mense te laat xhoulag. Namakwalanders, soos Ramsden, lag mos nie net nie. Hulle “xhoulag” diep uit hulle mae uit tot dit seer is.

Komaggas se bekende woordkunstenaar bring haar eenvrouproduksie, Xhoulag 2, Woordfees toe, en beloof om jou vasgenael te hou met al die saamlagstories uit haar grootwordwêreld. Van haar oorle’ ouma en die hospitaalbedpan tot ’n oom wat oppad na ’n begrafnis toe met skreeusnaakse gevolge te diep in die bottel kyk, neem sy jou op reis deur die kleurvolle karakters wat ’n diep indruk op haar gemaak het.

Ramsden kom uit ’n familie wat graag stukke sny. Trouens, haar enigste kleintydvermaak was die stukke wat die grootmense gesny het, want Komaggas het eers jare later elektrisiteit en TV’s gekry. Dié kaalvoetkind se verbeelwêreld was ver weg van Komaggas se stofstrate. Sy het gedroom van ’n verhoog waarop sy mense lag-lag kon inspireer en van hul sorge laat vergeet, en vandag is dit presies wat sy landwyd doen.

Daar is nog net ’n beperkte aantal kaartjies vir die Woordfees-vertoning beskikbaar op Vr. 8 Maart om 18:00 op Stellenbosch.

27 Februarie 2019|

Danneline tref Woordfees 2019 met Xhoulag 2

Groter. Beter. En selfs ’n bietjie stouter… Dit is hoe die Namakwalandse storieverteller en woordkunstenaar Danneline Ramsden haar nuwe produksie Xhoulag 2 beskryf, wat volgende week die Woordfees tref.

Ná sy verlede jaar tot in Namibië mense laat skaterlag het met haar unieke stories van haar grootwordwêreld is Ramsden terug met ’n nuwe produksie – dié keer met die TV-persoonlikheid en skrywer Ivor Price in die regisseurstoel en gasverskynings deur die bekende rymkletser Vito Heyn.

“Dit is my eerste volwaardige Woordfees-produksie – ’n groot droom wat bewaarheid word,” sê Ramsden, wat die laaste dekade reeds op Stellenbosch woon en werk. “Ek knyp nog myself as ek dink aan hoe mense verlede jaar my debuutproduksie aanvaar en ervaar het. Ons Namakwalanders lag mos nie net nie. Ons xhoulag. Diep en lelik uit ons binnste uit, en dit bly ’n voorreg om my eg, Namakwalandse stories met mense te deel.”

Volgens Ramsden wemel Xhoulag 2 van die nuwe stories, wat beteken dat selfs haar gereelde ondersteuners elke oomblik sal geniet. Dit sluit ’n skreeusnaakse verhaal in wat voor die magistraat op Springbok afspeel. “Hy’s bietjie aan die stoute kant, maar ek glo mense sal hom waardeer en beslis nooit vergeet nie. Dit was vir Price belangrik dat ons in Xhoulag 2 ook die stories insluit wat ons tot dusver net om die braaivleisvuur  vertel het. Wees ook op die uitkyk vir my stories oor diamantdelwery, of “digging” soos ons dit by die huis doen – als gebaseer op ware verhaal en mense wat ek ken.”

Price beskryf Ramsden en Heyn as ’n kragtoer. “Dit is twee Nama-tjênners waarvan jy eenvoudig móét kennis neem. Hulle neem jou op reis deur Namakwaland se stofstrate en laat jou vir ’n uur lank vergeet van alles wat pla. En die beste van als is dat hulle dit in hulle eiesoortige Afrikaans doen… Sonder tierlantyntjies en geite.”

Heyn gaan mense met liedjies van sy nuwe album, Ek is trots, vermaak. “Regtig, ek was lanklaas so opgewonde. In Xhoulag 2 deel ons, as trotse Namakwalanders, ’n bietjie van ons kultuur en taal met mense. Mense vergeet ook deesdae om te lag, so ons laat hulle ook vir ’n uur lank van hulle sorge vergeet.”

Ramsden se Xhoulag 2 speel slegs op Vr. 8 Maart 2019 van 18:00 tot 19:00 by die H.S. Lückhoff op Stellenbosch. Kaartjies kos R135 as jy dit vooraf by Computicket koop, en R155 as dit op die aand van die vertoning by die deur gekoop word.

26 Februarie 2019|

’n Mens is nooit te oud om te droom nie

Die mediapersoonlikheid Ivor Price skryf in sy Netwerk24-rubriek oor waarom Danneline Ramsden se Xhoulag-vertoning hom diep ontroer het. Hy sê wat haar stories so besonders maak, is nie die feit dat sy in die geselskap van storievertelgrotes tuis hoort nie. Dis dalk eerder dat die feit dat sy geen moeite ontsien om haar droom te verwesenlik nie.

Klik hier om die storie te lees.

21 Augustus 2018|